Soek
 
 
Kategorieë
Boeke Musiek DVDs Speelgoed
Huidige Katalogus
BBP
Crink
Facebook
Twitter

Wie's ons

In ‘n neutedop

Leserskring is Suid-Afrika se grootste boekklub en bied sy lede ’n wye keuse van die mees gesogte skrywers teen mnstens 20% goedkoper as winkelpryse. Ons boekkenners bied aan lede die room van die uitgewershuise met die nuutste topverkopers, woordeboeke, kookboeke, tuinmaakboeke, kinderboeke en soveel meer.

Elke kwartaal ontvang lede ’n gratis katalogus waaruit ten minste een boek moet kies. Lede kan per SMS, e-pos, webwerf bestel of die vriendelike kontaksentrum by 021 521 8582 of 083 915 6060 skakel.

‘n Klein begin

Gedurende die vroeë tagtigerjare het Koos Human en Leon Rousseau, twee groot name in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf, ‘n idee gekry om boeke deur middel van posbemarking te verkoop aan ‘n leespubliek wat voorwaar wyd en ver deur die land verspreid was. So het groot Afrikaanse boeke stil-stil hul plekkie op Suid-Afrikaanse boekrakke gevind - boeke soos In die begin was die Woord, Die Groot Fabelboek, Die Mooiste Afrikaanse Sprokies, en nog vele meer.

Daar was drie belangrike vereistes waaraan voldoen moes word, naamlik:

  • Dit moes ‘n boek wees wat wye aanklank vind – sonder om van swak gehalte te wees;
  • Dit moes duur genoeg wees om die advertensiekoste te regverdig, maar nie te duur vir die teikenpubliek nie;
  • Dit moes behoorlik geadverteer word.

Suid-Afrikaanse uitgewers was natuurlik vuur en vlam om deel te wees van hierdie veldtog en dit het gou duidelik geword dat om boeke deur middel van posbemarking te verkoop, twee belangrike elemente vereis:

  • Die aanbod moes ‘n wye verskeidenheid boeke bied, en veral Afrikaanse boeke;
  • Die aanbod moes op ‘n gereelde basis gemaak word.

Hierdie konsep, wat toe reeds vir jare deur die Bertelsmann Media Groep (eienaars van die Duitse Boekklub) gebruik is, is baie gou ook hier in Suid-Afrika as ‘n besigheidsmodel geïdentifiseer. Bertelsmann het goedgunstiglik hul kennis en ervaring met ons gedeel en 29 jaar later is hierdie verhouding nog steeds in plek. Op 17 Augustus 1980 is Leserskring dus gestig… en nou 29 jaar later, is ons nog steeds ‘n leesfenomeen om mee rekening te hou.

Ons eerste katalogus is in Oktober 1980 via die pos versprei en het aan lede ‘n heerlike versameling boeke teen aansienlik afgemerkte pryse gebied. Lede is deur middel van media-invoegsels, Posbemarkingsveldtogte en ‘n Lede-maak-lede-vergoedingstelsel gewerf en hierdie sisteme is vandag nog in gebruik.

Aanpasbaarheid by ’n veranderende omgewing

Reeds binne drie weke nadat die eerste katalogus gepos is, het Leserskring 3 000 lede gehad … ‘n duidelike aanduiding dat ons hier ‘n wenresep gehad het. 3 000 het binne twee jaar tot 100 000 gegroei! Dit het gou duidelik geword dat daar ook ‘n klub vir Engelse lesers geskep moes word en so het Leisure Hour (vandag Leisure Books) in 1982 begin. Vandag, 29 jaar later, staan ons ledetal op byna 200 000, waarvan ongeveer 400 lede reeds met ons is vanaf daardie eerste katalogus in Oktober 1980.

In 1995, is CDM (‘n Musiekklub) gestig en met die oorname van MusicDirect in 1999 het sy lidmaadskap tot 80 000 gegroei. As gevolg van veranderinge in die musiekbedryf en veral die groeiende populariteit van die aflaai van musiek in verskillende formate, het dié Klub sy deure in 2004 gesluit. Tog verkoop ons steeds vermaaklikheidsprodukte (CD’s en DVD’s) aan ons Boekklublede.

Die koms van die Internet het natuurlik ’n impak gehad op die kooppatrone van lesers. In 2003 het die Boekklubs saam met kalahari.net gesmelt om N-Direct te vorm. Dit het vinnig duidelik geword dat die Klubs se besigheidsmodel baie verskil van dié van die aanlynwinkel s’n en daarom het die besighede in 2005 weer geskei.

Vandag maak die Klub gebruik van ’n spoggerige webwerf, e-posse en sosiale netwerke soos Twitter en Facebook om bestellings te neem en nuwe lede te werf.

Fenomenale groei

Die Klubs verkoop elke jaar meer as ‘n miljoen boeke en baie mense is al lede vir die afgelope 27 jaar. Meer as 400 van die stigterslede van Leserskring is steeds aktiewe lede! Huidiglik het die Klubs tesame meer as 200 000 lede en ’n jaarlikse omset van R130 miljoen.

Leserskring reik uit … oor tale en kulture heen

Leserskring is trots Suid-Afrikaans, maar dit is wel met die Afrikaanse taal wat ons ‘n baie spesiale verhouding het. Met ‘n maatskappymotto “Lees Afrikaans Leef Afrikaans” is dit ons missie dat elke lid nie net Afrikaans moet lees nie, maar dit ook voluit moet leef.

Waarborg

Elke item op ons webwerf dra ons 100% GELD-TERUGWAARBORG.

Indien jy nie 100% tevrede is met die kwaliteit van die item wat jy bestel het nie, stuur dit net binne 14 dae onbeskadig terug. Ons sal dit met graagte vervang of jou geld terugbetaal.

Voordele as lid

  • 'n Gratis sak-stel! Plus 3 boeke vanaf slegs R15 elk vir nuwe lede!
  • Tot 20% af op gewone winkelpryse in elke kwartaallikse katalogus.
  • 100% onvoorwaardelike geld-terug-waarborg
  • Kies 'n stylvolle geskenk vir jouself vir elke nuwe lid wat jy werf!
  • Vriendelike Leserskring inbel-diens
  • In dieselfde groep as Huisgenoot & Sarie
  • 25% afslag op sekere tydskrifte
  • Die Leserskring-span

    Die Leserskring-span